Die wortelslaai is vir Pasella gemaak as deel van ʼn tipiese Suid-Afrikaanse middagete.
(Bedien 4)
1 blik (440g) pynappel, fyngemaak
1 pakkie suurlemoenjelliepoeier
½ k witsuiker
knippie sout
2 k geskilde wortels, fyn gerasper
½ k room
geelwortelrepies, pynappelstukkies en pietersielie vir garnering
Dreineer
die pynappel en vul die sap met water aan tot 250 ml. Verhit tot
kookpunt en los die jelliepoeier daarin op. Laat dit afkoel tot dik,
maar nie styf gestol nie. Klits die dik jellie tot romerig, Klits die
suiker bietjiesgewys by en dan die sout. Meng die gedreineerde pynappel
en wortels en vou dit liggies by die jellie in. Klits die room tot styf
en vou dit ook by die mengsel in. Spoel ʼn middelslag-slaaivorm met koue
water uit. Gooi die slaaimengsel daarin en plaas dit in die koelkas om
te stol.
Om
te ontvorm – druk die boonste rand van die slaai versigtig van die vorm
los. Hou die vorm ʼn paar tellings in warm water. Plaas ʼn slaaibord oor
die vorm en keer dit om sodat die slaai op die bord kan uitgly. (As dit
steeds aan die vorm vaskleef, hou dit onderstebo en druk die rand liewer
versigtig met die vingers sodat daar lug tussen die slaai en die vorm
kom.) Garneer die slaai soos verkies. Hou dit in die yskas tot net voor
opdiening.
No comments:
Post a Comment